So paar weke terug het ek myself indirek uitgedaag op Facebook om die tien albums te plaas wat my musiek-geskiedenis gevorm het. Ek het tot by nommer 6 gekom.
Die ses albums wat ek gedeel het, is:
- “5” – Louis Brittz
- “Worship” – Michael W. Smith
- “Left of the middle” – Natalie Imbruglia
- “Dreams: The collection” – The Cranberries
- “Throwing copper” – Live
- “OK computer” – Radiohead
Ek weet nie of ek nog albums kan byvoeg nie. In hierdie uitdaging het ek besef hoe vreemd my musiek-voorkeure is. Eintlik weet ek dit al lank, maar ek besef nou dat ek nie noodwendig tien albums kan lys wat werklik die vorming my musiek-geskiedenis kan beskryf nie.
Eerstens kan ek nie regtig sê watse genre van musiek ek noodwendig verkies nie. Ek weet nie eers in watter genre al die musiek waarvan ek hou ingedeel word nie. Ek weet nie wanneer musiek rock of pop is nie. Ek is redelik seker wanneer musiek gesien word as gospel, maar ek mag selfs daaroor verkeerd wees! So as ek ‘n liedjie hoor, sal ek nie die genre erken nie.
Ek wonder hoekom ek nie tien albums kan saamstel nie. Dit is dalk waar die vreemde aspek van my musiek-voorkeure ter sprake kom. Dalk is ek die enigste een wat dink my musiek-voorkeure is vreemd.
Ek hou van baie sangers, sangeresse en bands. Ek hou byvoorbeeld van Louis Brittz, Alanis Morissette, Michael W. Smith, Natalie Imbruglia, Live, Casting Crowns, Third Day, Counting Crows, Cranberries, en baie meer. Net omdat ek hou van hierdie musiekante, beteken dit nie dat ek van al hierdie musiekante se liedjies hou nie. Dalk is daar ‘n paar musiekante waarvan ek hou wat rock musiek maak. Dit beteken nie dat ek outomaties ‘n rock-musiek aanhanger is nie.
Ek dink nie daar is een enkele musiekant wat al ‘n album vrygestel het wat ek eerlikwaar elke liedjie op daardie album van hou nie.
Ek is nie baie lief vir Afrikaanse musiek nie. Dit weet ek. Ek luister meestal Afrikaanse gospel musiek. Dit beteken egter geensins dat ek na alle Afrikaanse gospel musiek luister nie.
Ek is nie baie lief vir Afrikaanse musiek nie. Dit beteken egter nie dat ek geen Afrikaanse musiek (buiten gospel) luister en selfs daarvan hou nie.
Daar is sommige musiekante van wie ek glad nie hou nie. Maar soms verbaas ek myself as daar een of twee van hulle liedjies is waarna ek ook graag luister.
Ek hou niks van boeremusiek nie. Skies. Ek weet Afrikaanse mense sal my seker nou haat oor hierdie erkenning.
Ek kan instrumentele en klassieke musiek luister, maar nie vir lank nie. Net omdat ek hou van Mozart en Beethoven, en enkele ander komponiste, beteken nie dat ek vir ure daarna kan luister nie. Ek is nie ‘n groot fan van koor- en operamusiek nie. Dit beteken egter nie dat ek glad nie daarna luister nie. Veral koormusiek, sal ek luister as ek mense in die koor ken.
Daar is enkele liedjies wat ek sal luister, maak nie saak wie dit sing nie en maak nie saak wat die genre van die weergawe is nie. Een van daardie liedjies is Amazing grace.
Ek wil more (1 Junie 2020) begin om liedjies te noem waarvan ek veral hou. Elke dag een liedjie. Sover as moontlik sal ek die liedjie, die musiekant, en die album waarop die liedjie verskyn, deel. So kyk gerus uit daarvoor. Ek gaan blog daaroor, en dit ook deel op my Facebook, Twitter en Instagram blaaie. Ek het ook TikTok (ek weet nie heeltemal hoe di twerk nie), en dalk deel ek dit daar ook.