Ek en my Skripsie 2017 … Weer begin


Ek wil ‘n reeks inskrywings begin wat gaan oor my Skripsie. Ek gaan hierdie inskrywings mail aan sommig mense, mense teenoor wie ek verantwoordbaar gehou wil en moet word om my Skripsie klaar te kry. Lesers wat my ook wil aanmoedig (challenge) om my Skripsie klaar te maak, is welkom.
Ek gaan probeer om so elke twee weke oor my vordering te blog.
Hierdie sal kort inskrywings wees. Natuurlik moet dit my nie weg hou van die actual werk van skryf aan my Skripsie nie. Dit sal ook soms in die vorm van ‘n blog inskrywing wees en soms in die vorm van ‘n brief – dit sal afhang waarheen ek dit eerste wil stuur.
Hierdie reeks inskrywings sal ook in twee tale – Afrikaans en Engels – geskryf word. Ek het twee blogs – ‘n Afrikaanse en ‘n Engelse blog – en wil graag hê dat diegene wat altwee blogs lees my journey kan meemaak. Ek skryf eerste in Afrikaans, en sal dan vertaal in Engels. Ek vermoed dat die “stemtoon” sal verander as ek dit so vertaal. Die email weergawe sal een dokument wees. [Julle is welkom om altwee bloginskrywings te lees; ek sal elke keer altwee links byvoeg.]
Die rede vir hierdie besluit? Ek het agter gekom oor die jare dat daar waarheid is in die lering dat ons deel is van ‘n gemeenskap mense, dat ons nie voldoende kan funksioneer buite hierdie gemeenskap nie (Dit is ook ‘n rede vir die keuse van ‘n deel van my Skripsie se tema.). Ek ervaar ook dat ek met sommige projekte wat ek wil begin ‘n gemeenskap van mense nodig het.
Elke persoon se gemeenskap verskil. Vir die doel van hierdie Skripsie, is daar paar Teologie studente, asook ‘n paar huidige predikante. Hierdie eerste mail stuur ek ook sonder om eers te hoor of julle deel wil wees van hierdie gemeenskap. As jy nie wil nie, sê my asseblief.
Ek skryf hierdie inskrywing voordat ek weet of ek toegelaat sal word om my Skripsie af te handel. Ek het in 2007 gaan Teologie swot by Tukkies. Ek het binne 4 jaar my graad afgehandel. Daarna (2011) het ek begin met my kerk-graad. {Skies, ek kan nou nie actually onthou watter een is die MDiv en watter een is die BTh nie; ek is seker iemand sal ‘n comment maak daaroor.}
Daar het verskillende goed gebeur wat veroorsaak het dat ek nie my Skripsie voorheen afgehandel het nie. In volgende skrywes sal ek dit deel – dit is deel van my proses om transparent te wees (ek weet nie van ‘n goeie Afrikaanse woord daarvoor nie).
Ek het wel in die afgelope paar maande gewerk aan my Skripsie. Dit was nie op enige akademiese standaard nie. In Rustenburg is daar drie predikante (Riaan Steyn, Herman Jansen en Pieter Jordaan) wat my begin help het om die standaard en styl reg te kry. My hoop was om dit so ver klaar te maak dat ek met ten minste ‘n 75% klaar dokument kan gaan vra of ek weer mag inskryf. Ek het egter nie besef hoe baie bronne ek gebruik het wat ek nie afgerol het nie. [Studente weet mos dat hulle sekere bronne moet afrol as hulle nie in die biblioteek kan of wil werk nie.] As gevolg van verkeerde verwysingsmetodes (verkeerd of onvolledig) het my Skripsie eintlik gegaan van 45% klaar na 15% klaar.
Daarom moet ek weer inskryf as ‘n student – sodat ek die biblioteek bronne kan bekom.
Hierdie is my eerste hekkie om oor te kom. Sal ek kan registreer as student, al het ek alreeds 2 of 3 keer geregistreer en nie klaar gemaak nie?
Dis verbasend (dalk moes ek dit besef het) hoe mens die studenteprosesse vergeet as mens nie meer op kampus beweeg nie. So ek is baie onseker oor die proses om uit te vind of ek weer kan inskryf.
Ek sal julle op datum hou.

16 Desember in Suid-Afrika: Versoeningsdag


Op 16 Desember 1431 is Henry VI van Engeland gekroon as die koning van Frankryk by Notre Dame in Parys, Frankryk.
Op 16 Desember 1689 word die “Declaration of Rights” deel van die “Bill of Rights”. Dit gebeur in die Engelse Parlement.
Op 16 Desember 1850 bring die Charlott Jane en die Randolph die eerste “Canterbury Pilgrims” na Lyttelton, Nieu Seeland. {Ek wou skryf “New Zealand”, want dit voel meer korrek, maar ek sal volstaan by hierdie Afrikaanse weergawe totdat mense vir my sê dis verkeerd om só van daardie land te praat.}
Op 16 Desember 1922 word die President van Pole, Gabriel Narutowicz vermoor deur Eligiusz Niewiadomski, in Warsaw.
Op 16 Desember 1942 beveel die Schutzstaffel hoof, Heinrich Himmler, dat sekere gevangenes [die sogenaamde Romani, wat ‘n etniese groep is wat meestal in Europa te vinde is] na Auschwitz moet gaan vir extermination {die naaste Afrikaanse woord wat ek kon vind wat so sterk is, is uitwissing}.
Daar gebeur nog baie ander goed op 16 Desember. Hierdie is slegs enkeles wat ek so vining wou uitlig. Daar is duisende belangrike en minder belangrike mense gebore op hierdie dag, en duisende ander het al gesterf op hierdie dag. Daar word baie verskillende goed gevier op hierdie dag.

Op 16 Desember 1838 vind die geveg by die Ncombe Rivier plaas, tussen 470 Voortrekkers (gelei deur Andries Pretorius en Sarel Cilliers) en ‘n geskatte 15000-21000 Zoeloe vegters (gelei deur Dambuza en Ndlela kaSompisi). Hierdie geveg staan vandag bekend as die “Slag van Bloedrivier”. Die Voortrekkers het hierdie geveg gewen.
Op 16 Desember 1880 breek die Eerste Boere Oorlog tussen die Boere Suid-Afrikaanse Republiek en die Britse Ryk uit.
Op 16 Desember 1910 protesteer swart Suid-Afrikaners teen rasse-diskriminasie. Hulle het nie die reg gehad om te kon stem in die land van hulle geboorte nie. Hierdie “regloosheid” het natuurlik voortgeduur tot in 1994.
Op 16 Desember 1961 word Umkhonto we Sizwe gestig deur die African National Congress (ANC). Na jare se passiewe protes, word hierdie beweging gestig as ‘n militêre vleuel, om meer geweldadige stryd te voer teen Apartheid. Die eersgte aksies van sabotasie word geloots, deur onder ander bomaanvalle teen regeringsgeboue in Johannesburg, Port Elizabeth en Durban.
Sodra mens begin besef wat alles gebeur het op hierdie dag in die geskiedenis, moet mens begin besef hoe ‘n polities gelaaide dag hierdie eintlik is.
Een groep mense het hierdie dag gevier (of herdenk) as ‘n dag waarop hulle ‘n onmoontlike oorwinning behaal het. Natuurlik het hierdie dag geensins ‘n politieke betekenis vir hulle nie – ‘n groepe Christene het gebid dat die Here hulle moet beskerm teen ‘n oormag goddelose mense. Dit is blote toeval dat die Christene en die goddelose twee verskillende rasgroepe was. Dit is ook toevallig dat die wenners eintlik nogal goeie wapens gehad het en die ander groep spiese en assegaaie gehad het.
Hierdie groep mense (hulle noem hulleself Afrikaners). Hulle dink ook aan al die leiding wat hulle deurgegaan het onder Britse regering.
Dan is daar die ander groep mense. Die oorgrote meerderheid van die mense in Suid-Afrika. ‘n Groep mense wat ook onderdruk is. Hierdie groep is onderdruk deur die gewese onderdrukkers. Hierdie groep is onderdruk deurdat hulle nie mag gestem het in die land waarin hulle gebore is nie – vir geslagte lank. Hierdie groep is onderdruk deurdat daar wette gemaak is wat hulle moes gehoorsaam, sonder om ooit ‘n sê daarin te mag of kan hê. Hierdie groep is onderdruk deurdat hulle vriendelik verplig is om in sekere dele van die land te woon, die land waarin hulle gebore is – hulle mag nie sonder ‘n pas na ander dele van hulle eie geboorteland gereis het nie. Daar is regeer oor hierdie groep sonder dat hulle ooit kon stem oor of daar oor hulle regeer mag word – baie soos wat die Britse mag gedoen het oor die “Afrikaners” (oftewel Boere van die dag).
Dit is vreemd hoe die onderdruktes die onderdrukkers word sodra hulle bevry word.
Die eerste groep het altyd hierdie dag gevier as Geloftedag.
Die tweede groep het nooit regtig ‘n amptelik naam gehad het nie, alhoewel die naam “Dingaansdag” deur sommiges genoem word.

Nelson Mandela se regering het, ná 1994, hierdie dag herdoop na Versoeningsdag. Die dag is vir die eerste keer gevier op 16 Desember 1995.
Daar is verskeie doelwitte deur die jare aan die dag geheg.
Op 16 Desember 1995 het die eerste sitting van die Waarheids- en Versoeningskommissie (WVK) plaasgevind.
Aartsbiskop Desmond Tutu het per geleentheid die dag beskryf as ‘n geleentheid om die wonde van Apartheid te genees. {Dit was ook ‘n doelwit van die WVK.}
Die dag word gebruik om minderheidsgroepe (se kulture) te vier. {Ongelukkig is daar sekere bewegings wat hierdie doelwit gehijack het deur almal wat wil luister, en ook diegene wat nie wil luister nie, te herinner dat ‘n sekere groep (wat Afrikaans praat en wit is) alleenlik die enigste groep is wat saak maak. {Ek weet, hulle sal sê dis nie waar nie, maar die gesegde lui mos “action speaks louder than words”.}
Jacob Zuma (ek weet, nie die meer betroubare persoon om hieroor te praat op hierdie stadium nie), het in 2009 beklemtoon dat hierdie dag ook onderwerpe soos nie-seksisme moet bevorder.

Daar is ‘n sekere groep Afrikaners wat hierdie dag steeds vier as Geloftedag. Vir hulle is dit steeds die dag waarop God oorwinning gegee het oor ‘n bose, goddelose mag. En steeds is dit bloot toevallig dat die wenners wit was en die verloorders swart. Toevallig, want die meeste mense wat hierdie dag herdenk, herdenk slegs dat God die oorwinning gegee het oor die bose mag. “Daar was ook nie-blankes tussen die Voortrekkers,” word voorgehou.
Totdat hierdie vieringe swart mense nie ongemaklik laat voel om deel te wees nie, sal ek vol hou dat dit nie gevier behoort te word nie. (Op grond waarvan moet ek dit vier? Op grond van ‘n belofte wat gemaak is? Hoeveel mense wat hierdie belofte getrou navolg, onthou in elk geval hulle doopbeloftes, aannemingsbeloftes, huweliksbeloftes?)
Ander mense vier wel Versoeningsdag. Kyk mens egter na die groot saamtrekke, kry mens ook die gevoel dat sommige van hierdie geleenthede gehijack word deur politieke partye as “hulle dae”. Ek wonder egter: Wie se skuld is dit dat dit gebeur het? Is die goeie bedoelinge daarvan verlore omdat een groep dit “hulle dag” maak, of is dit omdat die groep Afrikaans-sprekende blankes hulle eenvoudig onttrek het aan die dag, of bloot net nooit daaraan deel wou neem nie? (En ek kom nou weer agter hoe ek skryf in terme van “one en hulle”, iets wat ek haaaaat! Vir hierdie inskrywing is dit dalk egter noodsaaklik.)

Ek vier ook Versoeningsdag. Ek lees in die Bybel (2 Korintiërs 5:18-19) die volgende: “[God] het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou. Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou.”
Ek weet nie hoe ander mense die versoeningsboodskap uitleef nie. Ek is wel oortuig daarvan dat hierdie boodskap nie uitgeleef kan word as daar geleenthede is waar mense uitgesluit word nie – bewustelik of onbewustelik, opsetlik of onopsetlik.
Daarom vier ek versoening, en Versoeningsdag, effens anders. Ek probeer om saam met mense te kuier. Soms is daardie mense Christene, ander kere nie. Soms is daardie mense wit, ander kere nie. Soms praat daardie mense Afrikaans, ander kere nie. Soms stem ek saam met hulle oortuigings, ander kere nie. Dit is vir my moeilik om te kuier saam met mense wat nie Afrikaans is nie en wat nie dieselfde oortuigings as ek het nie. Maar hoe gaan die boodskap van versoening by mense uitkom as ek net kuier met mense wat praat soos wat ek praat, lyk soos wat ek lyk, en dink soos wat ek dink?
Op 16 Desember 2016 gaan ek waarskynlik nie met iemand kuier wat baie anders is as ek nie. Ek het nie mooi beplan aan so ‘n kuier vir hierdie jaar nie – al was dit een van my “Nuwejaasvoornemes”. Ek sal waarskynlik in ‘n coffeeshop sit en goed lees en/of tik. So as jy my ken, en my wil join, is jy welkom.

Hoe gaan jy Versoeningsdag spandeer?

Ek dink in Afrikaans; en skryf meestal eers in Afrikaans…


Ek wil graag so paar minute spandeer om my skryfstyl te verduidelik.
Ek is Afrikaans. Ek leef in Afrikaans. Ek dink in Afrikaans.

Ek het hierdie Afrikaanse blog.

 
Ek het egter ook ‘n Engelse blog. Ek het hierdie Engelse blog eerste begin: in die tyd wat ek nog ‘n voltydse student was. Ek het in daardie tyd gedink dat ek minimaal sal skryf in Afrikaans. Daarom het my blog ‘n Engelse naam gekry.
Ek het ook aanvanklik begin blog (ja, dit is ook ‘n werkwoord!) om opinies te kon skryf oor boeke. Die eerste boek wat ek wou bespreek, was ‘n Richard Foster boek oor geestelike dissiplines, en dit was ‘n Engelse boek.
Ek het heelwat later, seker 4 jaar later as ek reg tel, hierdie Afrikaanse blog (ja, ek is oortuig daarvan dat “blog” ‘n Engelse én ‘n Afrikaanse woord behoort te wees, en hier is dit ‘n naamwoord vir die blogsite [Wordpress in my geval]) begin.
Ek het sedertdien nie baie geblog nie. Ek maak net nie tyd nie. (Ek wil meer tyd maak, by the way.)

 
Ek lewe in ‘n era waar daar soms sekere frases gebruik word wat nie in my moedertaal so awesome klink soos wat ‘n ander taal se frase is nie. Byvoorbeeld, tot op hierdie stadium het ek reeds woorde en frases soos “awesome” en “by the way” gebruik, wat natuurlik nie Afrikaans is nie.
Tog is Afrikaans steeds my moedertaal. Ek dink steeds in Afrikaans. En as ek in Engels skryf, vat dit nie weg daarvan dat ek in Afrikaans dink en dat myself in Engels probeer uitspreek nie. Gevolglik struikel ek soms oor my tenses [Engelse woord!] en gebruik ek nie altyd die regte uitdrukkings nie [Afrikaanse uitdrukkings moet nie altyd eenvoudig oorvertaal word nie]. Ek weet, iemand sal waarskynlik voorstel dat ek maar ‘n woordeboek naby moet hou. Ek is egter effens lui…
Ek skryf hierdie blog nou eers in Afrikaans. Ek sal dit later in Engels vertaal. En dan gaan dit waarskynlik anders lyk en klink (behalwe vir die taal wat beslis anders sal wees).
Ek skryf hierdie blog, meer vir almal wat my Engelse blog lees as vir diegene wat my Afrikaanse blog lees. Ek wil graag verduidelik waarom dit dalk lyk of ek nie die Engelse taal respekteer nie. Ek weet natuurlik glad nie of enigeen wat my Engelse skrywes lees dink dat ek nie hulle taal respekteer nie.

 
Maar nou weet almal wat my blogs lees waarom ek soms myself moeilik uitdruk.

Jou verjaarsdag?


Hier is net ‘n kort nota vir vandag…

 

Wanneer is jou verjaasdag? En hoe oud is jy? {Ek skat jy kan sommer net jou geboortedag deel, as jy wil.}

Hoe verkies jy om jou verjaarsdae deur te bring?

Een van my vriende hou van baie mense om hom op sy verjaarsdae. Een van my ander vriende verkies weer dat net sy naaste vriende en familie kuier – en dit is ook nie eers nodig vir hulle om by hom te kuier nie.

Deel jou voorkeure, as jy wil.

4 dinge wat ek geleer het na 4 jaar se blogging


Ek het onlangs ‘n blogging-gemeentskap op Facebook gejoin. {Vir ander bloggers wat dalk nie bloggers wil ontmoet, volg net hierdie link.} Een van die files is “Blogiversaries”. Al is hierdie woord in Engels (wel, ‘n nuwe Engelse woord), is ek seker die gemiddelde blogger kan raai wat dit beteken. Ek het gaan kyk wanneer hierdie spesifieke blog begin het. My blogiversary is 30 September. En dit het in 2011 begin.

Dus is hierdie spesifieke blog nou 4 jaar oud. (My eerste blogsite is al 7 jaar oud!)

Ek het gedink ek gaan die geleentheid gebruik om 4 lesse wat ek geleer het oor blogging te deel – een les vir elke jaar wat ek al blog… Ja, regtig…

Ek skryf gewoonlik eers in Engels, vir my eerste blogsite. So as jy daar gaan kyk, sal jy 7 (+1) sien. Ek gaan die 4 belangrikste goed wat ek geleer het daar vat en net hier oor skryf en dalk meer of minder breedvoerig beskryf.

  • Moenie skuldig voel as jy nie elke dag iets plaas nie

Nie almal kan elke dag skryf nie. Ek het actually agter gekom dat die gemiddelde blogger (wat ek volg, ten minste), so een keer per week iets plaas.Ek het nog nie iemand gesien wat elke dag iets plaas nie.

Ek begin vrede maak daarmee om net een keer per week iets te plaas, en ook om nie skuldig te voel as ek nie elke dag iets plaas nie.

  • Skryf oor goed waarvan jy hou

Jy gaan nie noodwendig 1000e mense kry wat jou blog gaan lees nie. So kry iets waarvan jy hou, en skryf daaroor. En as jy oor 30 lukraak dinge wil skryf, by all means, doen dit. Tussen die 7+ biljoen mense op aarde, sal jy beslis paar lesers kry… En dalk kry jy die 1000e – maar dan sal dit wees omdat dit ‘n natuurlike proses is.

  • Om te skryf in ‘n ander taal as jou moedertaal is moeilik; om dit wat jy geskryf het in een taal en dan te vertaal in ‘n ander taal in, is ook nie so maklik nie.

My bloggery het in Engels begin. Ek weet nie hoekom ek gedink het dit sal oulik wees om in Engels te skryf nie. Ek weet wel vir my, wat Afrikaans is, was dit moeilik. Dis nogsteeds uitdagend.

Maar om die inhoud te vertaal van Engels na Afrikaans, is net so moeilik, indien nie moeiliker nie.

  • Hou aan oefen, al is dit moeilik

Ek dink nie ek sal ooit ‘n topverkoper boek kan skryf nie. Maar dit beteken nie ek gaan ophou skryf nie. Iemand het eenkeer genoem dat, hoe meer hulle skryf, hoe beter raak hulle. Ek lees vandag nog mense wat al vir langer as ek blog wie se meer spelfoute en sinsfoute as my blogs het. {Omdat ek weet ek is nie perfek nie, sal ek hulle nooit oordeel of uitlag nie.}

Oefening maak mens beter, nie net in sport nie, maar ook in skryf. So hou aan skryf.

  • Ekstra: Vra hulp; kyk uit vir ander se tips en idees

Ek het hierdie oulike Facebook-gemeenskap ontdek: The Blogging Elite. Ek vind dat daar nogal gawe tips gedeel word vir iemand soos ek. Gebruik hulle. Of soek vir jou ‘n ander bron waar jy kan hulp kry en waar jy uitgedaag kan word om ‘n beter skrywer en blogger kan word.

Hierdie is nie een van die tips nie, maar ek wil dit bysit, en dan ook afsluit daarmee.

Om iets te plaas, voel ALTYD persoonlik. Selfs al is dit nie dieselfde persoonlike aard as iets wat ek in my dagboek sou skryf nie, bly dit persoonlik. Dis omdat ek my tyd en energie daarin sit. En selfs al is dit sommer net ‘n plasing op ‘n ligter trant, het dit nogsteeds iets van myself gevat om dit te skryf en te plaas.

Beplan ‘n nuwe besigheid


Ek is nie ‘n besigheidsmens nie.

Ek is nie goed daarmee om ‘n nuwe besigheid te beplan nie.

Ek begin nou ‘n nuwe reeks: “Beplan ‘n nuwe besigheid”.

Ek het al lank ‘n droom om ‘n printing besigheid te begin, met ‘n fokus daarop om (aanvanklik) fotos en prente op koppies en hemde te print.

Om ‘n naam te kry vir ‘n besigheid, is moeiliker as wat ek kon dink. Ek wil nie my eie naam in die besigheid se naam gebruik nie. Die naam moet uniek wees. Dit moet ‘n naam wees wat maklik onthou kan word. Enige idees vir ‘n goeie naam? Ek sal enige voorstelle ernstig oorweeg.

My aanlyn leesstof


Ek gaan ‘n lysie maak van blogs wat ek graag lees.

As jy kyk op my blog, sal jy sien by een van die sidebars dat daar so ‘n lysie is. Hierdie spesifieke bloginskrywing sal mettertyd ‘n voorloper word om daardie lys volledig te maak (en behoorlik af te rond). Die lys sal verander soos wat tyd verloop, so kom loer so nou en dan.

  1. https://mycontemplations.wordpress.com/
  2. http://www.jorymicah.com/blog/ ……… As jy nie hou daarvan om uitgedaag te word nie, bly maar weg van hierdie blog af.
  3. http://www.thoughtleader.co.za/ ……… Hierdie is meer opinie-stukke op nuusgebeure. Ek hou daarvan.
  4. http://www.dailymaverick.co.za/ ……. Nuus, maar in ‘n minder formele manier vertel. Daar is ook die sidebar waar die opinionistas hulle opinie-stukke skryf.
  5. http://rachelheldevans.com/blog …….. Sy skryf nie so gereeld nie, maar as sy skryf, is dit die moeite werd om te lees.
  6. https://graceninjablog.wordpress.com/
  7. https://altacloete.wordpress.com/ …….. Ek het onlangs hierdie blog ontdek, nadat ek daarvan gelees het in Johan Smith se boek “In die donker put”.