“Ek is nie ‘n rassis nie, maar…”


Vanoggend het ek weer onthou hoe baie ek hierdie stelling haat!

Die persoon wat dit gesê het, is wit.
Die persoon is ook Afrikaans.
Met dit in gedagte, hoe sou jy ‘n stelling soos hierdie verstaan: “Dit gaan teen my gryn in om my nasie te help.”? Ek skat dat dit alleen piekfyn sou wees. Ek is ‘n Suid-Afrikaner. My “nasie” is Suid-Afrikaners.
Maar wanneer die stelling voorafgegaan word deur “Ek is nie ‘n rassis nie, maar…”, kan dit net op een manier verstaan word, reg? Of is ek kinderagtig of net oorgevoelig oor hierdie saak?

Ek het gefrustreerd gevoel toe ek die stelling gehoor het. Ek het dadelik gewens datek nie desperaat was vir ‘n vinnige lift nie. Ek wou die persoon stop en haar vra om my by die volgende stopstraat af te laai. Miskien moes ek dit gedoen het. Maar ek het nie. So ek het stil gebly. En ek het myself belowe om daaroor te skryf in my blogs.

So, daar is dit. Moet ek meer sê?
Ek haat daardie stelling!!

Kan ek nog iets byvoeg? Enige tyd wat ek so ‘n tipe sin hoor, is dit vir my moeilik om die sonde te haat en nie ook ‘n stukkie haat vir die sondaar te ervaar nie… (Daar is mos ‘n stelling in Engels “Love the sinner and not the sin.”)
Toe iets soortgelyk ‘n paar maande gelede gebeur het wat nuus gemaak het, het ek ingebel na Radio702. Ek het gepraat met Aubrey Masango, en het my frustrasie met wit Afrikaanse mese wat hierdie tipe goed sê met hom gedeel. Hy het my probeer oortuig om nie opgewerk te word deur so iets nie. Hy het begin voel dat hy verkies dat mense openlik praat, eerder as om hulle ware gevoelens weg te steek. Ek vind dit egter moeilik om nie opgewerk te word deur so iets nie. My gedagtegang werk soos volg: hoe kan ek kalm bly as ‘n wit Afrikaanse persoon so iets sê. Diep binne in daardie persoon is ‘n rassis. Ek is wit en Afrikaans. Wat is dan diep in my? Ek dink dit is waarom ek daardie stelling so afstootlik ervaar, miskien is ek te hard op myself…
Ek het die storie van vanoggend met een van die swart dames wat ek ken gedeel. Sy het toe vir my gesê om nie toe te laat dat dit my dag versleg nie… Ek sal probeer…