Regverdig of nie


Een van die hartseerste gesegdes is seker: “Die lewe is onregverdig.” Hoekom? Dalk omdat dit so waar is. Dit is nie lekker om dit te besef nie. Tog kom meeste van ons eers agter hoe onregverdig die lewe is wanneer ons aan die ontvangkant is van negatiewe gebeure.

Dit kom ook so maklik vir ons om uit te wys hoe onregverdig die lewe ons behandel. Ons dink nie eers aan hoe onregverdig die lewe vir ander is nie.

Soos die vrou wat 04:00 in die oggend opstaan om iemand anders se huis te gaan skoon maak. Sy het haar eie kinders, maar sy kan hulle nie wakker maak nie. Sy het nie ‘n keuse nie; hoe anders gaan sy die kinders wat sy so min sien, kos kan gee? Die ekstra stukkie onregverdigheid is dat sy iemand anders se kinders help grootmaak en meer tyd met hulle spandeer as met haar eie kinders.

Hoe baie mense werk vandag in supermarkte, waar hulle (soms baie ondankbare) mense help om hulle kruideniersware te bekom, vir R12,50 per uur (ás dit so baie is)? Dít, terwyl die eienaars van daardie besighede miljoene rande “verdien” uit die goedkoop arbeid wat aangestel word.

Ek dink ek skryf baie meer vir myself as vir enigiemand anders vandag. Want ek voel die lewe is baie onregverdig teenoor my die laaste paar maande. Ek wil baie graag werk as predikant by ‘n gemeente. Dit is immers waarvoor ek geleer het. Ek is op die oomblik aangewese op gemeentes (en hulle predikante, in ‘n mate) se goedhartigheid om my te vra om in te staan as predikant, net sodat ek bietjie betaling kan kry om te kan oorleef. Vandag is dag 35 van lockdown, en vir my beteken dit dat ek vier preekgeleenthede gemis het en nog geleenthede gaan mis. Dus, geen inkomste.

Ek gaan geensins probeer antwoorde gee op die onregverdigheid van die lewe nie. Ek dink wel ek moet leer om my eie omstandighede te vergelyk met ander se omstandighede, en dalk besef dat die lewe vir ander selfs meer onregverdig is as vir my.

Die lewe is ‘n lied!


“Die lewe is ‘n lied.”

Blykbaar is dit ‘n uitdrukking wat gesê dat iemand uitbundige vreugde beleef. Ek wil dit nie beperk daartoe nie.

Musiek beskryf gevoelens so baiekeer so goed. Ek dink dat elkeen van ons een of ander liedjie kan verbind met een of ander groot gebeurtenis in ons lewens.

Tydens my VCSV Diensjaar (in 2002), was een van die liedjies wat baie gesing is “I’m coming back to the heart of worship”. Dit is nogal ‘n temalied vir my geloofslewe. Elke nou en dan moet ek weer terugkom na die belangrikste aspek van dit waaroor geloof gaan: Jesus Christus. Niks meer. Niks minder.

My ander geloofs-temalied is “Amazing grace”. Dit herinner my aan die belangrikheid van genade. Ek het genade ontvang. As (hopelik binnekort ‘n vol-aangestelde) predikant glo ek dit is die belangrikste boodskap wat ek moet verkondig: Genade is beskikbaar vir elkeen op aarde!

Elke keer wanneer ek by die see is, kom daar ook so lied in my gedagtes in. Ek is baie lief vir die see en vir die strand. Wanneer ek so uitkyk oor die see, en loop op die sand van die strand, kom die lied op: “Run to the water…”. Die band Live se een lied. En as ek die see baie verlang, speel ek hierdie lied graag.

Om een of ander rede het die hartseer-oomblikke van my lewe se lied “Everybody hurts” geword. Die eerste keer wat ek hartseer-oomblikke met daardie lied vereenselwig het, was na Princess Diana se dood.

Ek wonder hoeveel mense gaan “It’s the end of the world as we know it” verbind met Covid-19, en spesifiek die eerste vier tot ses maande van 2020, en alles wat daaruit vloei. Ek dink ek sal. Ek hoop regtig die wêreld lyk anders na Covid-19. Ek hoop mense wat waardevol is – soos mediese personeel, onderwysers en onderwyseresse en mense wat ons help in winkels – hulle ware waarde betaal word. Ek hoop dat mense mekaar se menswees al meer raaksien.

Ek wonder wat is jou liedjies vir jou oomblikke in die lewe. Dalk het jy selfs verskillende liedjies vir verskillende fases van jou lewe. Wat is jou liedjies?

250-300 woorde en random topics


Ek wil al so lank probeer om meer plasings te maak op my blog. Ek voel net eenvoudig nooit of ek kreatief genoeg is om iets te skryf nie.
Net voor 24:00 op Sondag, 26 April 2020, skryf ek toe op my Facebook blad . Hier is die woorde wat ek geskryf het:

Ek het ‘n blog wat baie stil is. Ek wil graag meer daar post.
Ek wil vra… Gee vir my ‘n onderwerp of ‘n sin of woorde of enigiets, en dan gaan ek probeer om iets te skryf daaroor in 250-300 woorde.
Dit kan Afrikaans en/of Engels wees…
(Daar is net ‘n paar goed waaroor ek NIE sal skryf nie…)

Ek het klaar vier reaksies gekry daarop. So ek het al begin skryf daaraan.
Ek is nie regtig seker wat ek aan myself gedoen het nie. Ek weet nie watter topics – ek gebruik die Engelse woord vir “onderwerp”, omdat dit net makliker val “op my tong” – nog voorgestel gaan word nie. Ek weet nie of ek 250-300 woorde sal kan skryf oor enige topic nie.
Ek hoop hierdie uitdaging wat ek aan myself stel gaan help om my meer kreatief te skryf. Ek hoop dat mense lekker gaan reageer op hierdie uitdaging wat ek vir myself stel. In reaksie op die onderwerpe – ek skakel oor na die Afrikaanse woord hier, omdat hierdie immers ‘n Afrikaanse blog is – wat vir my gegee word, gaan ek probeer om ten minste een kort artikel te skryf. Ek gaan probeer om ten minste 250 woorde te skryf oor elke onderwerp, maar dalk meer as 300.
Ek gaan binnekort ook hierdie uitdaging in Engels stel. Ek het immers ook ‘n Engelse blog.
Die aanhaling uitgesluit, lyk dit vir my of ek nou net oor die 250 woorde geskryf het. Kom ons kyk hoe werk hierdie uitdaging.