Category Archives: Stil Saterdag

Stil Saterdag 2021


Stil Saterdag.

Dit is, lyk dit vir my, die mees algemene naam vir vandag, in Afrikaans, op die kerklike kalender. Daar is ook ‘n paar ander benaminge, soos “Holy Saturday” en “Black Saturday”. Ek gebruik die Engelse name daarvoor hier, omdat ek nie die benaminge in Afrikaans gekry het nie. My aanname is dat daar nie ‘n “Heilige Statedag” en ‘n “Swart Saterdag” in Afrikaanse kerke is nie.

Ek het in gister se inskrywing geïnsinueer dat ek ‘n Christen-gelowige is. Laat ek dit dan nou duidelik stel. Ek is wel ‘n Christen-gelowige. Daarom sal heelwat van my inskrywings wel ‘n Christelike inslag hê. Wat natuurlik nie beteken ek sal nooit oor ander onderwerpe gaan skryf nie.

Ek het egter nou op 1 April weer begin om moeite te doen om te blog. En dit val nou presies in hierdie belangrike tyd op die Christelike kalender.

Terug by Stil Saterdag.

Vandag is natuurlik die dag na Goeie Vrydag. Die dag waarop Christen-gelowiges terugdink aan Jesus se sterwe.

As ons, Christen-gelowiges in 2021, terugkyk in die geskiedenis, glo ons egter dat Jesus uit die dood opgestaan het.

Daar is egter nog die dag tussen Goeie Vrydag en Opstandingsondag.

Op Stil Saterdag herdenk ons hierdie dag.

Baie Christen-gelowiges gedenk hierdie dag deur geen musiek te luister of speel nie, behalwe miskien hartseer musiek. Daar kan immers nie regtig fees gevier word na iemand se dood nie. Veral as mens jouself vereenselwig met die waarskynlike gevoelens wat Jesus se heel eerse volgelinge gehad het!

Vandaar die gedagte van “stil” Saterdag. Ek self het so paar jaar gelede die besluit geneem om op hierdie dag geen musiek te luister nie.

Jesus se eerste volgelinge het dit waarskynlik beleef as die einde van alle hoop. Hulle het op daardie stadium nog ‘n Messias, ‘n redder, verwag wat hulle polities gaan bevry van die Romeinse mag. So Jesus se volgelinge was op daardie Saterdag nog ‘n totale wanhoop van redding.

As mens hierdie begin saam beleef, maak benamings soos “Black Saturday” ook sin. Mens sou sekerlik ook dit “Donker Saterdag” kon noem. Donker, soos in die maan en sterre is nie eers skerp genoem om die nag darem effens te verlig nie!

In een van ons formulerings van ons geloof, sê ons “gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het”. Ek dink nie Jesus het hel toe gegaan nie. Ek dink dit is veel eerder ‘n manier om te sê dat Jesus so drasties geskei was van Sy Vader, dat dit ervaar moes wees as werklike “hel op aarde”… “hel na die dood!”. Daar is natuurlik ook die gedagte wat sê dat Jesus die dood oorwin het – nie die fisiese dood nie, maar die geestelike dood. Hy maak dit moontlik dat ons geestelik kan lewe – ons verhouding met God wat herstel. Daarom kan “Holy Saturday” as benaming ook sin maak.

Dit is ook amptelik die laaste dag van Lydenstyd. ‘n Tyd wat ook in heelwat kerke herdenk word. Dit is die 38 dae (Sondae uitgesluit) voor Goeie Vrydag, asook Goeie Vrydag en Stil Saterdag. Ook hierdie word baiekeer herdenk as ‘n manier om op ‘n manier te vereenselwig met Jesus se lyding.