Category Archives: Virgin Active

Oppad na ‘n gesonder leefstyl


Ek was vandag weer in die gym.

Ek gym by Virgin Active… (Ek mag adverteer op my eie blog…)

Ek was so twee weke laas in die gym voor vandag. In die groter prentjie is dit seker nie so lank nie. Ek is immers al omtrent vyf jaar (dit is nou so 60 maande, of 260 weke) by Virgin Active.Virgin Active

Al die takke het mos daardie masjien waar jy jou gewig en bloeddruk en liggaamsvet en heart rate neem. Voordat ek gaan oefen het, het ek net gou al my maatstawwe gaan vat…

Volgens die masjien, weeg ek vandag 130.6 kg, is my bloeddruk 143/84 mmhg (wat dit ookal beteken!), is my heart rate 90 bpm, en het ek 33.8% liggaamsvet.

Ek het nie vaagste benul wat van hierdie goed beteken nie. Ook nie regtig hoe mens dit kan verbeter nie.

Ek weet net dat ek op die oomblik baie fokus op cardio oefeninge. Ek weet ook nie regtig wat dit beteken nie, maar dit sal blykbaar help om fiksheid te verbeter… En ek het nodig om fikser te raak.

Ek beleef myself as redelik ongesond. Hierdie blog inskrywing is die eerste van (hopelik) ‘n goeie en getroue reeks, waarin ek my pad na ‘n gesonder leefstyl wil deel (met myself, en ook met enigiemand wat dit wil lees).

Een van my inspirasies hiervoor is mense… Mense wat ongesond lyk. Daar is dalk ‘n paar ander woorde wat mens daar kon gebruik, in plaas van “ongesond”. “Oorgewig” is een van daardie woorde. “Supervet” is ‘n ander een (dis my blog, so ek mag daardie ‘n woord noem). Ek is nie een wat oordeel uitspreek oor hoe mense lyk nie. Ek sal my eie voorkoms moet begin beoordeel (veroordeel!) as ek ander se voorkomste wil veroordeel. Maar iewers in my onderbewussyn het die gedagte by my begin opkom dat “ek nie so wil lyk nie”… en daardie gedagte kom veral op wanneer ek hierdie “supervet” mense sien. Dit lyk ongemaklik!

Ek voel soms ongemaklik… En ek lyk nie eers so ongesond nie!

Een van my ander inspirasies, is ‘n youtube video wat ek onlangs gesien het. Die titel van die video is: “One mans 120 pound journey”. Gaan kyk bietjie daarna.

Deur die loop van hierdie reeks, sal ek meer van my inspirasies deel.

Vir nou, sal ek hier stop. Ek hoop om meer getrou te blog as in die verlede. Maar ek het hierdie ander duidelike doelwit: Om meer getrou te oefen as in die afgelope twee weke… en meer getrou te oefen as wat ek geblog het oor die afgelope 12 maande!