Category Archives: Vadersdag

Vadersdag 2021


Vir die van julle wat nog nie gehoor het nie. Vandag is Vadersdag.

‘n Dag waarop party mense fees vier en ander hartseer is.

Vir my is dit ‘n dag van onthou.

Ek onthou woorde wat al vir my gesê is.

“Jy is so goed vir ons kinders. Jy sal eendag so ‘n goeie pa wees.”

“Jy is soos ‘n pa vir my. Dankie vir alles wat jy my leer, vir jou goeie voorbeeld.”

“Dankie vir al jou moeite met ons kinders.”

Ek het onlangs (Desember 2020) 21 jaar in bediening “gevier”. Ek is nou al meer as 21 jaar in bediening. Meestal Jeugbediening. Ek onthou meeste van my groot besluite. Keer op keer het ek besluit om ander mense se behoeftes bo myne te sit.

Dit is mos waaroor bediening gaan. Om die minste te wees, sodat ander meer kan wees. Nie vir jouself nie, maar vir die koninkryk van God!

Ek het nog altyd my besluite gemaak sodat ek ander kon dien. Ek sukkel met “myself eerste stel; aan myself dink vir ‘n slag”. Ek het ook nog nooit hierdie bedieningswerk gedoen om raakgesien te word, erkenning te kry, of selfs om bedank te word nie.

Maar vandag is Vadersdag.

Vandag kry ek nie een boodskap nie. Nie een goeie wens nie. Nie een “gelukkige vadersdag” nie. Nie ontbyt in die bed nie.

Want ek is toe nie ‘n vader nie. Ek is toe nie so ‘n “goeie pa” soos almal altyd gesê het ek sal wees nie – want ek is nie ‘n pa nie! Vir al daardie “jy is soos ‘n pa vir my” woorde, kan ek vandag wys dat ek dalk net ‘n memory is. As ek ‘n memory is…

Een ander wysheid wat iemand jare gelede met my gedeel het, was toe ek moes besluit of ek verder moet swot – in ‘n bedieningsrigting.

Een van my heroes en voorbeelde in die lewe het gesê: “Moenie jou lewe op ys sit vir hulle nie. Oor drie jaar gaan hulle nie eers meer dink aan jou nie.”

Daardie spesifieke tydperk het ek met ‘n groep kinders ‘n pad gestap… Kinders wat die wêreld vir my beteken het. Vandag hoor ek nie eers van hulle nie. Meeste van hulle is getroud en het kinders van hulle eie. Ek is werklik bly vir hulle.

Ek is werklik bly vir elke kind met wie ek al ooit ‘n pad gestap het, in wie se lewe ek ‘n positiewe invloed kon gehad het. Elkeen wie ek op een of ander manier kon help.

Maar vandag is Vadersdag.

En ek is alleen…