Category Archives: Opstandingsondag

Jesus lewe!


Vandag vier ons die opstanding van Jesus uit die dood.

Ons glo dat Jesus lewe!

Dit sluit dan in effek die belangrikste naweek vir die Christelike geloof af.

Jesus se dood, wat op Goeie Vrydag herdenk word, maak dit moontlik dat die verhouding tussen God en mense herstel word. Jesus sterf vir mense se sondes, sodat mense permanente vergifnis kan ontvang vir hulle sondes.

Op die derde dag het Jesus opgestaan uit die dood.

Indien Jesus nie opgestaan het uit die dood nie, sou dit beteken het dat Sy reddingsdaad nie werklik ten volle moontlik geword het nie. Jesus moes ook opstaan. Dit het beteken dat Hy nie net die sonde oorwin het (op Goeie Vrydag) nie, maar ook die dood oorwin het. Daarom kan ons uitsien na ‘n ewige LEWE saam met God. ‘n Lewe wat ook nou al begin.

Omdat Jesus leef, kan ons ook voluit lewe.

Die eerste woorde van die engel aan die vroue in Matteus se vertelling, is om nie bang te wees nie. Hierdie “vrees” wat aangespreek word, is waarskynlik eerder ‘n vrees as hulle die engel sien.

Ek dink dit kan dalk ook ‘n uitspraak wees wat sê dat ons as mense nie meer bang hoef te wees vir die dood nie. Want Jesus lewe weer.

Die vroue word gestuur om die nuus van Jesus wat weer lewe, te gaan deel met Jesus se ander volgelinge. Vroue, wat in hierdie tyd eintlik nie waardig geag is om getuienis af te lê nie, word gestuur om die eerste getuies te wees van hierdie goeie nuus!

Jesus lewe! En ons kan saam met Hom lewe!