16 Desember in Suid-Afrika: Versoeningsdag


Op 16 Desember 1431 is Henry VI van Engeland gekroon as die koning van Frankryk by Notre Dame in Parys, Frankryk.
Op 16 Desember 1689 word die “Declaration of Rights” deel van die “Bill of Rights”. Dit gebeur in die Engelse Parlement.
Op 16 Desember 1850 bring die Charlott Jane en die Randolph die eerste “Canterbury Pilgrims” na Lyttelton, Nieu Seeland. {Ek wou skryf “New Zealand”, want dit voel meer korrek, maar ek sal volstaan by hierdie Afrikaanse weergawe totdat mense vir my sê dis verkeerd om só van daardie land te praat.}
Op 16 Desember 1922 word die President van Pole, Gabriel Narutowicz vermoor deur Eligiusz Niewiadomski, in Warsaw.
Op 16 Desember 1942 beveel die Schutzstaffel hoof, Heinrich Himmler, dat sekere gevangenes [die sogenaamde Romani, wat ‘n etniese groep is wat meestal in Europa te vinde is] na Auschwitz moet gaan vir extermination {die naaste Afrikaanse woord wat ek kon vind wat so sterk is, is uitwissing}.
Daar gebeur nog baie ander goed op 16 Desember. Hierdie is slegs enkeles wat ek so vining wou uitlig. Daar is duisende belangrike en minder belangrike mense gebore op hierdie dag, en duisende ander het al gesterf op hierdie dag. Daar word baie verskillende goed gevier op hierdie dag.

Op 16 Desember 1838 vind die geveg by die Ncombe Rivier plaas, tussen 470 Voortrekkers (gelei deur Andries Pretorius en Sarel Cilliers) en ‘n geskatte 15000-21000 Zoeloe vegters (gelei deur Dambuza en Ndlela kaSompisi). Hierdie geveg staan vandag bekend as die “Slag van Bloedrivier”. Die Voortrekkers het hierdie geveg gewen.
Op 16 Desember 1880 breek die Eerste Boere Oorlog tussen die Boere Suid-Afrikaanse Republiek en die Britse Ryk uit.
Op 16 Desember 1910 protesteer swart Suid-Afrikaners teen rasse-diskriminasie. Hulle het nie die reg gehad om te kon stem in die land van hulle geboorte nie. Hierdie “regloosheid” het natuurlik voortgeduur tot in 1994.
Op 16 Desember 1961 word Umkhonto we Sizwe gestig deur die African National Congress (ANC). Na jare se passiewe protes, word hierdie beweging gestig as ‘n militêre vleuel, om meer geweldadige stryd te voer teen Apartheid. Die eersgte aksies van sabotasie word geloots, deur onder ander bomaanvalle teen regeringsgeboue in Johannesburg, Port Elizabeth en Durban.
Sodra mens begin besef wat alles gebeur het op hierdie dag in die geskiedenis, moet mens begin besef hoe ‘n polities gelaaide dag hierdie eintlik is.
Een groep mense het hierdie dag gevier (of herdenk) as ‘n dag waarop hulle ‘n onmoontlike oorwinning behaal het. Natuurlik het hierdie dag geensins ‘n politieke betekenis vir hulle nie – ‘n groepe Christene het gebid dat die Here hulle moet beskerm teen ‘n oormag goddelose mense. Dit is blote toeval dat die Christene en die goddelose twee verskillende rasgroepe was. Dit is ook toevallig dat die wenners eintlik nogal goeie wapens gehad het en die ander groep spiese en assegaaie gehad het.
Hierdie groep mense (hulle noem hulleself Afrikaners). Hulle dink ook aan al die leiding wat hulle deurgegaan het onder Britse regering.
Dan is daar die ander groep mense. Die oorgrote meerderheid van die mense in Suid-Afrika. ‘n Groep mense wat ook onderdruk is. Hierdie groep is onderdruk deur die gewese onderdrukkers. Hierdie groep is onderdruk deurdat hulle nie mag gestem het in die land waarin hulle gebore is nie – vir geslagte lank. Hierdie groep is onderdruk deurdat daar wette gemaak is wat hulle moes gehoorsaam, sonder om ooit ‘n sê daarin te mag of kan hê. Hierdie groep is onderdruk deurdat hulle vriendelik verplig is om in sekere dele van die land te woon, die land waarin hulle gebore is – hulle mag nie sonder ‘n pas na ander dele van hulle eie geboorteland gereis het nie. Daar is regeer oor hierdie groep sonder dat hulle ooit kon stem oor of daar oor hulle regeer mag word – baie soos wat die Britse mag gedoen het oor die “Afrikaners” (oftewel Boere van die dag).
Dit is vreemd hoe die onderdruktes die onderdrukkers word sodra hulle bevry word.
Die eerste groep het altyd hierdie dag gevier as Geloftedag.
Die tweede groep het nooit regtig ‘n amptelik naam gehad het nie, alhoewel die naam “Dingaansdag” deur sommiges genoem word.

Nelson Mandela se regering het, ná 1994, hierdie dag herdoop na Versoeningsdag. Die dag is vir die eerste keer gevier op 16 Desember 1995.
Daar is verskeie doelwitte deur die jare aan die dag geheg.
Op 16 Desember 1995 het die eerste sitting van die Waarheids- en Versoeningskommissie (WVK) plaasgevind.
Aartsbiskop Desmond Tutu het per geleentheid die dag beskryf as ‘n geleentheid om die wonde van Apartheid te genees. {Dit was ook ‘n doelwit van die WVK.}
Die dag word gebruik om minderheidsgroepe (se kulture) te vier. {Ongelukkig is daar sekere bewegings wat hierdie doelwit gehijack het deur almal wat wil luister, en ook diegene wat nie wil luister nie, te herinner dat ‘n sekere groep (wat Afrikaans praat en wit is) alleenlik die enigste groep is wat saak maak. {Ek weet, hulle sal sê dis nie waar nie, maar die gesegde lui mos “action speaks louder than words”.}
Jacob Zuma (ek weet, nie die meer betroubare persoon om hieroor te praat op hierdie stadium nie), het in 2009 beklemtoon dat hierdie dag ook onderwerpe soos nie-seksisme moet bevorder.

Daar is ‘n sekere groep Afrikaners wat hierdie dag steeds vier as Geloftedag. Vir hulle is dit steeds die dag waarop God oorwinning gegee het oor ‘n bose, goddelose mag. En steeds is dit bloot toevallig dat die wenners wit was en die verloorders swart. Toevallig, want die meeste mense wat hierdie dag herdenk, herdenk slegs dat God die oorwinning gegee het oor die bose mag. “Daar was ook nie-blankes tussen die Voortrekkers,” word voorgehou.
Totdat hierdie vieringe swart mense nie ongemaklik laat voel om deel te wees nie, sal ek vol hou dat dit nie gevier behoort te word nie. (Op grond waarvan moet ek dit vier? Op grond van ‘n belofte wat gemaak is? Hoeveel mense wat hierdie belofte getrou navolg, onthou in elk geval hulle doopbeloftes, aannemingsbeloftes, huweliksbeloftes?)
Ander mense vier wel Versoeningsdag. Kyk mens egter na die groot saamtrekke, kry mens ook die gevoel dat sommige van hierdie geleenthede gehijack word deur politieke partye as “hulle dae”. Ek wonder egter: Wie se skuld is dit dat dit gebeur het? Is die goeie bedoelinge daarvan verlore omdat een groep dit “hulle dag” maak, of is dit omdat die groep Afrikaans-sprekende blankes hulle eenvoudig onttrek het aan die dag, of bloot net nooit daaraan deel wou neem nie? (En ek kom nou weer agter hoe ek skryf in terme van “one en hulle”, iets wat ek haaaaat! Vir hierdie inskrywing is dit dalk egter noodsaaklik.)

Ek vier ook Versoeningsdag. Ek lees in die Bybel (2 Korintiërs 5:18-19) die volgende: “[God] het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou. Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou.”
Ek weet nie hoe ander mense die versoeningsboodskap uitleef nie. Ek is wel oortuig daarvan dat hierdie boodskap nie uitgeleef kan word as daar geleenthede is waar mense uitgesluit word nie – bewustelik of onbewustelik, opsetlik of onopsetlik.
Daarom vier ek versoening, en Versoeningsdag, effens anders. Ek probeer om saam met mense te kuier. Soms is daardie mense Christene, ander kere nie. Soms is daardie mense wit, ander kere nie. Soms praat daardie mense Afrikaans, ander kere nie. Soms stem ek saam met hulle oortuigings, ander kere nie. Dit is vir my moeilik om te kuier saam met mense wat nie Afrikaans is nie en wat nie dieselfde oortuigings as ek het nie. Maar hoe gaan die boodskap van versoening by mense uitkom as ek net kuier met mense wat praat soos wat ek praat, lyk soos wat ek lyk, en dink soos wat ek dink?
Op 16 Desember 2016 gaan ek waarskynlik nie met iemand kuier wat baie anders is as ek nie. Ek het nie mooi beplan aan so ‘n kuier vir hierdie jaar nie – al was dit een van my “Nuwejaasvoornemes”. Ek sal waarskynlik in ‘n coffeeshop sit en goed lees en/of tik. So as jy my ken, en my wil join, is jy welkom.

Hoe gaan jy Versoeningsdag spandeer?