Inperking, staat, godsdiens, gesinwees, en ek


Vandag is dag hoeveel ook al van inperking.

Daar is hierdie siening dat mense sosiale wesens is. Mense is groepswesens. Ek vermoed dat selfs diep introverte sal saamstem hiermee. As introvert, weet ek dat ek nie konstant tussen mense wil of kan wees nie. Tog smag ek daarna om tussen mense te wees by tye.

Ons lewe in ‘n tyd van sosiale media. Media wat blykbaar help om mense aan mekaar te verbind.

Ons lewe ook nou in ‘n tyd van afsondering as gevolg van ‘n pandemie genaamd Covid-19.

Hierdie tyd van sosiale media en hierdie tyd van afsondering kom bymekaar. Ons sien di took op verskillende maniere.

In ons godsdiensbeoefening sien ons dit.

  • Gemeentes saai hulle dienste uit op verskillende sosiale forums. Kerke saai lewendig uit oor Facebook en en ander sosiale platvorms.
  • Kerke stel boodskappe beskikbaar op Facebook en Youtube.
  • Gemeentes en gemeenteleiers stuur boodskappe via WhatsApp.
  • Vergaderings word gehou via Zoom en Skype.

Gesinne behou kontak met gesinslede op verskillende maniere – deur WhatsApp en Facebook, om maar net twee maniere te noem.

Regerings regoor die wêreld hou inperkingsmaatreëls in stand op verskillende maniere. Fisies is daar afstand tussen mense.

Deur middel van sosiale platvorms probeer organisasies kontak hou met hulle lede. Gemeentes met hulle lidmate. Gesinne met gesinslede. Regerings met hulle bevolkings.

As daar egter een ding in hierdie verband is wat ek agter kom, is dit dat sosiale media toe al die tyd regtig nie effektief is om sosiale verhoudings in stand te hou nie. Oogkontak is belangrik. Face-to-face is nodig.

Nagmaal- en begrafnisbediening via sosiale media voel nie reg nie. Nagmaal is immers ‘n gemeenskapsmaaltyd. Begrafnisse is geleenthede om sigbare medelye te betoon met mense.

Ek het reeds genoem dat ek ‘n introvert is. Mense wat my goed ken, weet dat ek eintlik ‘n sterk introvert is. As so ‘n diep introvert, is WhatsApp en Facebook en YouTube nie genoeg nie. En so awesome soos wat ‘n Zoom vergadering is – dit is meer “lewendig” – is selfs Zoom nie genoeg nie. Ek smag na face-to-face interaksie met mense.

Waar bevind jy jouself in hierdie opsig? ‘n Mens, ‘n sosiale wese, tydens inperking.

My roepingsbelewenis


Waarom spesifiek die NG Kerk?

Hierdie vraag, of variasies van hierdie vraag, word die laaste paar maande so nou en dan vir my gevra. Daar is verskillende redes vir hierdie vraag. Dalk skryf ek eendag daaroor ook.

Aan die einde van 2019 het ek begin om my roepingsbelewenis aan die einde van my CV bygevoeg. Ek wil graag daardie roepingsbelewenis hier plaas. Dit vertel my verhaal in hierdie verband tot aan die einde van 2006. Ek het in 2007 Teologie begin swot.

 

Ek wil graag ‘n paar paragrawe deel van my roepingsbelewenis.

As kind het ek groot geword in ‘n gemeente wat baie wetties van aard was. Ek was baie voorskriftelik teenoor die kinders in die omgewing waar ek groot geword het. Tot in so ‘n mate dat hulle my die spot-naam “dominee” gegee het. As ek terugkyk in my lewe, dan sien ek dit as ‘n manier waarop die Here my toe reeds geroep het om predikant te word.

In die gemeente waarin ek groot geword het (in Rustenburg), was lidmate egter nie geleer oor “stem van die Here” en hoe Hy met mens kan en wil praat nie. Dalk onthou ek dit net nie regtig nie, of dalk is daar net nie sulke goed ingewerk in die Sondagskoolmateriaal vir laerskooljeug nie. Of dalk het ek dit net nie verstaan nie.

Ek het belydenis van geloof afgelê in hierdie gemeente. Maar ek het nie regtig verstaan waaroor die “Christelike lewe” gaan nie.

Na matriek (1998) het ek een jaar gaan swot by Universiteit van Pretoria (Tukkies): ‘n BCom rigting. Ek het egter nie baie goed gedoen nie. Ek moes my studies staak, as gevolg van swak uitslae.

In daardie jaar (1999) het ek in ‘n NG gemeente beland vir een of ander spesiale diens. Dit was een naweek wat ek by die huis was in Rustenburg. My ma was vasbeslote dat ons in die kerk moet wees vir hierdie spesifieke diens. Die gemeente waarin ek groot geword het, asook die gemeentes in daardie kerkgroep, het nie ‘n diens gehad daardie dag nie. Ek het aanvanklik gevoel ek is op die verkeerde plek. Om een of ander rede het ek gevoel dat die NG Kerk eintlik “die vyand” is (Ek het groot geword in ‘n Gereformeerde Kerk.). Ek weet tot vandag toe nie waarom ek so gevoel het nie. Ek kan nie dink dat daar ooit regtig so iets vir my geleer is nie!

Die predikant het daardie oggend die lidmate verwelkom, gevra wie kuier, en gevra dat die lidmate van die gemeente die besoekers moet verwelkom. ‘n Man en sy vrou (later sou ek hoor dit was een van die predikante se ouers) en opsetlik geskuif van een kan van die bank na die ander kant om nader aan ons te kom sodat hulle ons kon voel. Ek onthou ek was redelik beïndruk met hierdie moeite wat gedoen is om ons welkom te laat voel in hierdie “vyand-kerk”.

Op aandrang van my ma het ek betrokke geraak in hulle jeugbediening. In die beperkte mate wat ek daardie jaar kon, omdat ek nog in Pretoria was deur die week, het ek betrokke geraak. Seker so een keer elke tweede of derde naweek (wanneer ek huis toe gegaan het).

Aan die einde van die jaar het ek ‘n graad 7 kamp bygewoon as groepleier. Dit is by hierdie kamp waar my liefde vir jeugbediening begin het.

In 2000, terug in Rustenburg, het ek meer betrokke geraak by die NG kerk, spesifiek by die jeugbediening, maar ook op ander manière. Ek het in daardie jaar volle lidmaat geword by die kerk. NG Bergsig gemeente.

In daardie jaar het ons ‘n jeugweek begin organiseer. Vir September 2000. Dit was ironies dat ek deel was van die groep organiseerders, omdat ek nie eintlik ‘n verhouding gehad het met die Here nie. Dit was aan die einde van die jeugweek – die laaste aand – wat ek my “hart vir die Here gegee” het. Op daardie stadium het hierdie gemeente ook nie eintlik iets soos ‘n opvolgprogram gehad nie. Daar was nie ‘n groep vir nuwe bekeerlinge, of so iets, waarheen ek kon gaan nie.

Ek het ook nie eintlik besef ek het so iets nodig nie. Ek het vir die volgende klomp maande effens rondgedobber, nie mooi geweet van Bybel lees en bid en sulke tipe basiese goed vir geestelike groei nie.

In 2002 het ek ‘n geleentheid gehad om Diensjaar te doen deur VCSV. Ek was deel van ‘n laerskoolspan gewees. Aan die begin van daardie jaar het ek begin leer van Bybel lees en bid en ander mense dien en ander goed doen om te help om geestelik te groei. Voorheen sou ek Bybel lees, maar omdat die dominee gesê het ek moes… In daardie tyd, sê ek gewoonlik, dat ek my tweede bekering gehad het – ek het my lewe vir die Here gegee.

Na Diensjaar het ek een jaar lank los werkies gedoen. Ek was ook weer terug in Rustenburg, en by NG Bergsig, waar ek my vrywillige werk in die jeugbediening hervat het.

In 2004 het ek begin werk by HS Rustenburg. By die kerk het my fokus ook al hoe meer geskuif vanaf junior jeugbediening na senior jeugbediening toe.

Ek het gewerk deur ‘n maatskappy genaamd Kohin, wat jeugwerkers by skole plaas. In my desperaatheid en hass om by die spesifieke skool te werk, was ek bereid om vir omtrent ‘n derde van die “salaris” te werk wat die maatskappy betaal het.

In my derde jaar by die skool (2006) het dit begin moeilik gaan, finansieël gesproke. Ek glo een manier waardeur die Here praat met my, is omstandighede. Omtrent in die middel van daardie jaar het ek begin voel die Here sê ek moet vir predikant gaan studeer. Herinneringe aan daardie spot-naam wat ek gekry het by die kinders in my omgewing het by my opgekom. Die finansies het ook by my begin spook. Kohin het vir my gesê ek moet oorweeg om na ‘n ander skool toe te gaan. Ek was bereid om dit te doen, behalwe daarvoor dat ek begin voel het die Here roep my vir voltydse bediening as predikant.

Finansies was egter ‘n werklike probleem. Ek het begin “deals” maak met die Here.

Eerste “deal”: Ek wil eers my werk klaar maak met die graad 10 groep waarmee ek werk op daardie stadium. So, in effek, “Here, wag net so twee jaar…”. Maar dit het nog moeiliker gegaan met my finansies.

Tweede deal: As die finansies reg is, sal ek gaan studeer. Ek was bereid om die volgende jaar op een of ander manier geld te spaar sodat ek kon gaan swot die jaar daarna. Ek het eintlik net probeer uitstel. My ouers het aanvanklik gesê hulle sal help, maar toe later dat sy dit nie sal regkry nie.

Derde deal: Dit was nie eintlik ‘n deal wat ek gemaak het nie. Dit was eerder soos ‘n reaksie op die tweede deal. My oupa het gesê hy sal my finansieël help met my studies. Dit was die finale woord daarop. In die middel van November! Ek het Tukkies toe gery om te gaan inskryf.

Deur dit alles het ek geweet dat ek ‘n NG predikant moet word. Omdat ek my geestelike skoene die eerste keer aangetrek het in ‘n NG gemeente. Ek het ook geweet dit sal Pretoria moet wees. Omdat ek nie regtig baie kon spaar nie, sou ek nie ‘n ver opsie kon vat – soos Bloemfontein of Stellenbosch.

Hierdie is so oorsig in my roepingsbelewenis. Ek heg dit aan by my CV, sodat dit maklik aangestuur kan word saam met my CV.

 

Wanneer ek hierdie aan die einde van my CV byvoeg, is dit nie in bold nie. Dit is hier bold, net om aan te dui wat presies my skrywe is oor my roepingsbelewenis.